Probleem opgelos – Spatare

Probleem opgelos – Spatare
Linda Kriel beantwoord vrae wat kwel.

Laai die Linda Kriel Fitness toep af vir daaglikse eetplanne en oefenprogramme: LINDA KRIEL FITNESS TOEP

Vraag

“My ma het baie lelike spatare agterop haar kuite en in die waai van haar bene. Sy het al ‘n verskeidenheid oplossings probeer soos rome en stywe kouse dra, maar dit maak nie werklik ‘n verskil nie. Ek het gehoor dat dit oorerflik is. Is daar enige iets wat ek kan doen om dit te voorkom? Ek wil ook graag weet wat die oorsake daarvan is.”  Esther (34) 

Antwoord

Spatare kan op enige ouderdom ontwikkel, maar tussen die ouderdom van 18 – 35 jaar is die kanse groter dat jy daardie abnormale en soms onooglike are sal ontwikkel en dit bereik ‘n hoogtepunt tussen 50 en 60 jaar. Swangerskap kan dit ook veroorsaak (8% tot 20% van swanger vroue ontwikkel dié abnormale are).  

Spatare is ongelukkig  oorerflik, so as jou ma dit gehad het, is die kanse groot dat jy dit ook kan kry. Maar dit beteken nie jy moet maar terugsit en aanvaar dat jy dit sal kry nie. Jy kan iets doen om die kanse minder te maak: 

Jou lewenstyl het ‘n groot invloed op die vorming van spatare.  As jy baie onaktief is of ‘n beroep het waar jy heeldag sit of staan, is die kanse baie groot dat jy spatare sal kry.   

Hou jou gewig in toom! Dit sal ook die druk op jou bene verlig. Daarom is gereelde oefening ‘n moet! Oefeninge sal help om jou gewig te laat verloor, of jou gewig konstant te hou én dit verbeter jou bloedsirkulasie in jou bene. 

As jy nie elke dag ‘n formele oefenprogam kan volg nie, probeer om dan ten minste so aktief moontlik te wees. As jy heeldag agter ‘n lessenaar sit, moet jy sorg dat jy na elke uur ‘n bietjie opstaan en jou bene beweeg. Loop ‘n draai, of klim ‘n stel trappe op en af. Jy kan ook sit en jou voete sirkel en jou tone punt en fleks, sodat jou kuite kan saamtrek en ontspan. Lees hier meer oor hoe om fiks en ferm tuis te word: Tuisoefeninge.

As jy vir ‘n lang tydperk staan, moet jy ook propeer om gereeld jou bene en veral jou kuitspiere te laat werk, deur ‘n paar keer op jou tone te staan en dan weer jou hakke te laat sak. Probeer ook om dan af en toe te gaan sit en jou bene te lig. (‘n goeie verskoning om soms bietjie skoene uit te skop). 

– Linda Kriel

Leave a Reply