Banting Pizza
Pizza met blomkool-kors
Hierdie is een van die beste lae koolhidraat pizza korse wat daar is. Baie moeilik om te glo dit word van blomkool gemaak! Die geheim is dat die blomkool ordentlik gedereineer moet wees, anders val jou kors uitmekaar en ‘n pizza moet lekker aan die kors opgetel kan word!
4 Porsies
BESTANDDELE:
250g blomkool-rys (rou blomkool wat BAIE fyn gemaak is)
1 eier
250g mozzarella kaas
5ml oreganum en pietersielie
30ml suikervrye tamatiesous
150g spek, gaar en opgekap
150g sampioene, in skyfies gesny en gaar
30g feta kaas, gekrummel
125g ekstra mozzarella, gerasper
METODE:
- Voorverhit die oond tot 230°C
- Spuit ‘n groot tertbord goed met kleefwerende middel.
- Meng die blomkool, eier en mozzarella saam. Druk die mengsel goed vas in die bord. Sprinkel bietjie oreganum en pietersielie bo-oor. Bak vir 15 minute. Verwyder die bord uit die oond en laat effens afkoel. Keer die pizza-kors versigtig uit en plaas op ‘n gesmeerde bakplaat.
- Verf die kors met tamatie-basis sous (sien wenk hier onder), voeg spek en sampioene oor. Sprinkel ook die feta en die addisionele mozzarella kaas.
- Plaas onder die roosterelement van die oond en rooster tot die kaas gesmelt is.
- Bedien warm.
Wenk: Vir ‘n tamatie–basis sous kan jy geblikte tamaties, knoffel, balsamiese asyn en ‘n bietjie olyfolie meng met ‘n handmenger (stick blender).