Geen tyd om te oefen nie?

Sukkel jy om erens 30 minute of meer in jou dag af te knyp vir ‘n oefensessie?

Die goeie nuus is dat jy – deur meer aktief te wees tydens jou daaglikse bedrywighede – uiteindelik dieselfde voordele kan geniet as wanneer jy ‘n formele oefensessie in die gimnasium doen. Jy kan helaas fikser en fermer word EN onooglike vetrolletjies afskud deur oefeninge deur die loop van die dag te doen. Hoe meer aktief jy is deur die dag hoe vinniger sal jy resultate kry. Ek praat nie nou van die 5 maagopsitte wat jy soggens doen wanneer jy opsit om jou wekker se “snooze” knoppie te druk nie…

Die geheim is om ‘n aktiewe leefstyl te kweek. Verander jou ingesteldheid teenoor oefening en probeer ten minste 30 minute se oefeninge deur die loop van die dag inwerk.

As tyd dus ‘n probleem vir jou is, doen die oefeninge – vir verskillende spiere en veral vir jou probleemareas – wat ek op my webtuiste of Facebookblad demonstreer gereeld deur die loop van die dag, wanneer jy ‘n minuut tot jou beskikking het. ‘n Minuut hier… ‘n minuut daar… Alles saam getel kan uiteindelk ‘n halfuur wees.

Die oefening vir jou middellyf wat ek hier demonstreer, kan jy doen terwyl jy wag dat die ketel kook.

(Indien jy reeds ‘n kranige oefenentoesias is, doen hierdie oefeninge bykomend en sien hoe jy baie vinniger resultate kry.)

Oefen jou Middellyf terwyl jy wag vir die ketel

unspecified (1)Staan regop, met jou voete skouerbreedte uitmekaar en hou vas met jou linkerhand aan ‘n tafel of ‘n stoel. Plaas jou regterhand op jou regterskouer.

Lig nou jou linkerknie op na jou bors. Bring terselfdertyd jou regterarm af en draai jou bolyf sodat jou regterelmboog oorkruis na jou linkerknie gaan. Trek jou maagspiere in. Keer terug na die beginposisie. Doen 20 – 25 herhalings elke kant. Asem uit elke keer wanneer jy jou elmboog en knie oorkruis bymekaar bring. Hou jou maagspiere ingetrek.

Los gerus vir my kommentaar hier onder en sê wat JY doen (behalwe jou gewone oefenroetine) om ekstra kilojoules deur die dag te verbrand.

Leave a Reply