Blomkool-Rys

Blomkool-rys

As jy wil sny op jou koolhidraat inname is hierdie Blomkool-Rys (Cauli-Rice) die ideaal om te maak saam met jou kerrie- of bredie-geregte. Ek plaas twee metodes vir julle hier onder. As ek haastig is gebruik ek die roerbraai metode, maar ek hou meer van die oond geroosterde Blomkool-Rys, want soms kan die roerbraai dit bietjie “mushy” (papperig) maak.

Laat weet my watter metode julle verkies.

Baie van my resepte in die nuwe Linda Kriel Fitness toep stel voor dat jy Blomkoolrys gebruik in die Banting eetplanne. Kliek hier as jy meer wil lees en die toep wil aflaai: LINDA KRIEL FITNESS TOEP

Blomkool-rys Bestanddele:

  • 1 Kop Blomkool
  • 1 Ui
  • Olyfolie of klapperolie (coconut oil)
  • Groente speserye of sout en peper

Metode vir Roerbraai:

  • Breek die blomkool in stukke en plaas dit in ‘n voedselverwerker. As jy nie ‘n voedselverwerker het nie, kan jy ‘n paar stukkies op ‘n slag met ‘n staafmenger (stick blender) fynmaak, óf jy kan die blomkool rasper, maar die rasper maak die stukkies baie grof.
  • Kap ook een ui in baie klein fyn stukkies.
  • Verhit jou jou olyf- of klapperolie in ‘n medium-hitte pan
  • Roerbraai die Blomkool-rys en fyn gekapte uie vir ongeveer 10 minute

Metode vir Oondrooster:

  • Voorverhit die oond tot 220°. Bedek ‘n bakplaat met foelie.
  • Nadat jy die blomkool en uie in ‘n voedselverwerker (of met ‘n staafmenger) fyngemaak het, plaas dit in ‘n mengbak en meng dit deeglik met olyf- of klapperolie.
  • Geur met enige speserye waarvan jy hou (of net sout en peper)
  • Sprei dit uit op jou bakplaat en rooster totdat dit ‘n goue kleur begin kry. Ongeveer 25 minute.

Geniet dit!
Linda Kriel

Leave a Reply